Maak gelukkige kinders groot

Het jy al ooit as ouer oorweldig, gedaan en ontnugter gevoel? Het jy al ooit selftwyfel en onsekerheid ervaar in jou soeke na die regte rigting op jou ouerskapreis?

Ek het.

Nie een of twee keer nie. Sommer baie kere!

Êrens tussen die roetine en sleurwerk van skottelgoedwasser uitpak, wasgoed opvou, speelgoed wegpak, werk inpas en aan ’n oorspronklike hoendergereg te probeer dink, het ek ’n oomblik van helderheid ervaar: Die enigste volhoubare manier om ’n ma te wees, is om my kwesbaarheid te aanvaar en te vergeet van volmaak wees. Ma-wees is soms skrikwekkend, maar ai, is dit nie wonderlik en vervullend nie?

Daarom het ek ’n besluit geneem.

Al wat regtig saakmaak, is om ’n vreugedevolle ma te wees terwyl ek gelukkige kinders grootmaak. Niks meer nie, niks minder nie. En dít is waaroor ek doelgerig sal wees.

Toe skryf ek ’n boek.

My boek, Maak gelukkige kinders groot, verduidelik vir jou die drie belangrikste beginsels wat die basis vorm om gelukkige kinders groot te maak:

  1. Ons kinders se brein ontwikkel wanneer ons ’n hegte, betekenisvolle band met hulle smee;
  2. Alle kinders het ’n sensoriese temperament wat hulle denke, gevoelens en gedrag beïnvloed;
  3. Ons kinders sal gelukkig, kalm en gebalanseerd wees as hulle weet hoe om hul liggaam te reguleer, oorweldigende gevoelens te hanteer en hul denkvaardighede te onwikkel.

Maak gelukkige kinders groot sal jou help VERSTAAN

  • Wat in jou kind se liggaam en brein aan die gang is;
  • Hoekom beweging noodsaaklik is vir jou kind;
  • Hoekom jou kind ineenstortings en woede-uitbarstings het;
  • Wat vrees en angstigheid by jou kind veroorsaak;
  • Hoe stres jou kind se brein beïnvloed.

My boek bevat hope nuttige analogieë en is propvol praktiese oplossings.

Maak gelukkige kinders groot sal jou LEER

  • Watter soort beweging jou kind gelukkig, kalm en gebalanseerd sal laat;
  • Hoe jy jou kind kan help wanneer sy leer om oorweldigende gevoelens te hanteer;
  • Hoe die aktivering van jou kind se denkende brein hom vir die res van sy lewe sukses kan laat smaak;
  • Hoe om ineenstortings en woede-uitbarstings só te hanteer dat dit jou kind se brein help bou;
  • Hoe om koesterende rituele en aanpasbare roetines in te stel;
  • Hoe om grense te stel vir onaanvaarbare gedrag;
  • Hoe om jou kind se vrese en angstighede te hanteer;
  • Hoe om ’n vreugdevolle ouer te wees.

Hierdie boek is nie sommer net nog ’n ouerskaphandleiding nie.

Dit bied nie een algemene resep vir almal nie.
Dit is spesifiek gerig op jou unieke kind.

Dit is nie die soort boek wat jou sal laat voel dat jy die ouerskaptoets druip nie.
Dis ’n boek wat jou sal inspireer en jou die moed sal gee om die uitdagings van ons tyd te aanvaar.

Dis nie ’n boek wat jy net van voor tot agter gaan deurlees nie.
Jy gaan dit jare lank gebruik om jou geheue met relevante brokkies inligting te verfris en jou telkens weer die moed van jou oortuiging te gee.

Hierdie boek verduidelik nie net teorie en konsepte nie.
Dit is ook propvol eenvoudige oplossings en prettige idees.

Maak gelukkige kinders groot sal beslis die manier waarop jy na jouself, jou kind en verhoudings kyk, verander.

Vir altyd.

 

“Lizanne slaag in hierdie boek om kwesbaar sowel as behulpsaam te wees. Die insigte wat sy deurgaans in die boek deel, het my toestemming gegee om die ouer te wees wat ek altyd wou wees. Ek weet nou wie my kind regtig is en ek voel beter toegerus om enige uitdagende gedrag wat ons moontlik voortaan sal teëkom, te hanteer.” Tamzyn, Jack se ma.

ONTMOET VIR LIZANNE

Family photo Dec 2013Lizanne du Plessis is ’n kind van God, vrou, ma van twee pragtige dogters, arbeidsterapeut, skrywer en spreker. Lizanne se storie sluit jarelange vrugbaarheidsbehandeling in, die skielike aankoms van ’n vroeggebore babadogtertjie, die geboorte van ’n tweede kind in ’n vreemde land, en verblyf in nege verskillende huurwonings in drie lande oor ’n tydperk van dertien jaar. Dit is Lizanne se passie om ma’s aan te moedig. Sy skryf by www.lizanneduplessis.com oor haar missie om ’n vreugdevolle ma te wees en gelukkige kinders groot te maak.

 

 

Please note: I reserve the right to delete comments that are offensive or off-topic.